Doping met die Heilige Gees is 'n gawe van God waaroor daar groot onkunde heers. Baie Christene het nog nooit daarvan gehoor nie, ander dink dat almal wat tot bekering kom hierdie Doping outomaties ontvang. Wat behels hierdie gawe van God....hierdie Doop met die Heilige Gees? Dit waarna in Hand.1:5 verwys word as  "...julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie." Wat is hierdie Gawe wat met die Uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag beskikbaar geword het vir alle gelowiges ? (Hand.2:39).

        

Die Doping met die Heilige Gees is 'n gawe wat God aan  gelowiges beskikbaar stel om hulle werklik toe te rus vir hul taak. Hierdie gawe gee Christene die krag om met groot vrymoedigheid die Woord te verkondig (Hand.1:8) Dit verander Christene ook van "Dam - Christene" (moet gedurig geestelik bemoedig word) na "Fontein - Christene" (kan ander geestelik bemoedig) Joh.7:38-39. Hierdie gawe gaan ook  gepaard met die spreek in tale (Hand.2:2-4, Hand.10:44-46, Hand.11:15-16, Hand.19:6).  Dit is ook waarna die Bybel verwys in 1Kor.12:7. Beide die Afrikaanse  vertalings is effens verwarrend, daarom haal ek die klassieke Engelse vertaling die King James Version aan "But the manifestation of the Spirit is given to every man to profit withal" (1Kor.12:7 KJV). Die Griekse woord "phanerosis" wat vertaal is na "manifestation" beteken letterlik " 'n sigbare vertoon". Almal wat gedoop word met die Heilige Gees ontvang dus hierdie manifistasie (spreek in tale) van die Heilige Gees. Onthou net dat die spreek in tale 2 verskillende gebruike kan hê. Want soos met die vorige skrifgedeeltes gesien, het  almal elke keer in tale gebid na hulle met die Heilige Gees gedoop is. Hierteenoor leer 1Kor.12:10,11,30 dat die gawe van spreek in tale nie vir almal is nie  --- hoe nou ?  Die een gebruik vir die spreek in tale is wanneer God 'n boodskap gee deur middel van hierdie gawe. Dit doen Hy wanneer Hy wil (1Kor.12:11) en dan moet hierdie boodskap ook uitgele word (1Kor.14:27).   Die tweede gebruik vir spreek in tale is wanneer die gelowige dit gebruik as 'n persoonlike gebed (1Kor.14:2). Want nadat die Heilige Gees hierdie taal vir hom op 'n bonatuurlike wyse gegee (1Kor.12:7-11) het by die Doping met die Heilige Gees, kan die gelowige dit nou gebruik wanneer hy wil (1Kor.14:15, Joh.4:23, Judas 20 ou vert.), alhoewel hy dit nie noodwendig self hoef te verstaan nie (1Kor.14:14,28). In kort dus: Die eerste gebruik is vir 'n boodskap vanaf die Hemel na die Aarde wanneer God besluit Hy wil, en die tweede gebruik is as gebed deur jou gees onder leiding van die Heilige Gees vanaf die Aarde na die Hemel wanneer jy ookal so wil bid. Dit is egter ook nodig om te besef dat die Doping met die Heilige Gees nie altyd met die spreek in tale  gepaard  gaan nie, aangesien 'n mens wel die drang om in tale te spreek kan onderdruk. 1Kor.14:27-33 (veral vers 32) toon duidelik dat jy kan stilbly as jy wil.  Jou stilbly kan selfs wees dat jy bang is - bang vir die onbekende ! Dit beteken natuurlik nie, dat jy die Doping met die Heilige Gees nie ontvang het nie, want so seker soos die verlossing deur Jesus 'n gebed ver weg is so naby is die Doping met die Heilige Gees vir Christene wat dit vra (Hand.2:17-18, Hand.2:38-39, Hand.8:15-16, Hand.9:17, Hand.19:6). Maar onthou die teken is vir elkeen bedoel ! 

Moenie bang wees vir hierdie hemelse taal nie, want soos enige taal, is ook hierdie taal/tale nie sonder klanke nie (1Kor.14:10 ou vert.,Hand.2:6).

 

Die waarheid van die Doop met die Heilige Gees word ongelukkig baie verdraai en dit is een van die groot oorsake waarom die kerk geestelik so swak is. Spreek in tale en Goddelike genesing, (menslik gesproke die bonatuurlike manifestasies van die Doop met die Heilige Gees) word afgemaak as dinge wat net gegee is vir die kerk in sy beginjare asof ons nou beter sonder die krag van God kan klaarkom!  Alle hedendaagse spreek in tale word sommer geklassifiseer as emosionele hoogspanning.  Daar word meerderwaardig na die Doop met die Heilige Gees verwys as 'n sogenaamde "second blessing" . Verder word die feite van die Doping met die Heilige Gees verdraai, daar word onder andere gese dat mense wat glo in die Doop met die Heilige Gees  ook sê dat net hulle die Heilige Gees ontvang het, maar ander Christene nie --hoe jammer om die waarheid met sulke onjuisthede te probeer verdoesel.  Verder word daar ook gese dat dit wat op Pinksterdag gebeur het, eenmalig was en dat latere geslagte soos ons wat Christene word, outomaties die Doping met die Heilige Gees ontvang wanneer ons Christene word.  Word die vraag dan gevra: wat van die dissipels waarna in Hand.19:2 verwys word as

"gelowig", waarom word daar in Hand.19:6 dan hande opgele vir die Doping met die Heilige Gees en wat van die Samaritane wat gelowig geword het onder Filippus se prediking (Hand.8:12) , waarom het Petrus en Johannes dan gekom in Hand.8:14-17 en die Samaritane die hande opgele vir die Heilige Gees (Doping met Heilige Gees). Hierdie gelowiges moes mos alreeds die Doping met die Heilige Gees gehad het, (volgens diegene wat die gawe van die Doping met die Heilige Gees probeer wegredeneer) waarom dan die ekstra gebed/handoplegging sou mens verder dan vra.  Op die vrae antwoord die teenstanders van die Doping met die Heilige Gees gewoonlik 1 van 2 antwoorde ---- die mense was nog nie gelowig nie of God het 'n uitsondering gemaak en hierdie dinge toegelaat om vir die mense te sê dat die Heilige Gees wel op Pinksterdag uitgestort is.  Die eerste antwoord, dat diegene eintlik "ongelowig" was, is nie skriftuurlik nie dit bewys bogenoemde 2 gedeeltes (Hand.8:12 en Hand.19:2) duidelik. Die 2de argument is ook sonder enige bewyse en sou soortgelyk wees aan 'n argument dat Jesus meer as eenmaal gekruisig moes word sodat die wat nog nie daarvan gehoor het nie, dit ook kan sien.  'n Ander argument wat ek ook al gehoor het, is dit staan nie in die bybel dat mense met die Heilige Gees gedoop mag/moet word nie.  Dit is juis die doel van die skrywe om te kyk wat se die Woord van God oor die onderwerp, en nie om gehoor te gee aan buite-bybelse argumente nie !

 

Eerstens is dit baie belangrik om te weet dat alle Christene die                                                 Heilige Gees inwonend het (Rom.8:9, Joh.14:17, 1Kor.3:11,16). Ons hoef dus nie te bid dat die Heilige Gees in ons moet kom woon nie --- Wanneer ons vir Jesus as Verlosser aanvaar , kom woon die Heilige Gees outomaties in ons.

 

Waarom dan die Doping met die Heilige Gees ? Dit is 'n gawe wat God gegee het om gelowiges toe te rus vir hul taak. (Hand.1:8). Dit is ook nie 'n gawe wat jy self kan verdien

nie, maar Jesus gee dit.  Jesus doop gelowiges met die Heilige Gees (Luk.3:16-17, Joh.1:33)  Die manier dus om die Doping met die Heilige Gees te ontvang, is om deur gebed te vra dat Jesus jou met die Heilige Gees moet doop, of soos dit meer algemeen in die bybel gedoen is, kan iemand wat alreeds die Doping met die Heilige Gees ontvang het, saam met jou bid daarvoor (Hand.8:12-17, Hand.11:15-16, Hand.19:6, Luk.11:13). Daar kan moontlik gese word dat Luk.11:13 verwys na jou  bekering, ek sien egter geen argument daarvoor nie.  Die ander moontlikheid naamlik dat Luk.11:13 verwys na die ontvang van die Doping met die Heilige Gees is meer aanvaarbaar. Eerstens Hand.8:15 en Hand.19:6 verwys ook net na die ontvang van die Heilige Gees (soos Luk.11:13), maar dit is duidelik dat dit gaan oor die ontvang van die Doping met die Heilige Gees, aangesien daardie persone reeds gelowiges was.

Tweedens  Dieselfde lering van Jesus is ook in Matt.7:11 aangeteken en hier is dit (selfs duideliker as in Luk.11:13) baie duidelik dat dit gaan oor die vrymoedigheid wat mense wat alreeds gelowiges is (Heilige Gees is alreeds in hulle) mag hê om gawes, onder andere die Doping met die Heilige Gees van hul Hemelse Vader te vra.

 

Die vraag kan gevra word: --Goed die Doping met die Heilige Gees rus Christene toe vir hul taak (Hand.1:8), maar hoe verskil dit van die ontvang van die Heilige Gees wat by bekering plaasvind ?

 

By bekering kom woon die Heilige Gees in gelowiges (Rom.8:9, 1Kor.3:11,16). Hierteenoor vind ons in Hand.8:16, Hand.10:44 en Hand.11:15 waar dit oor Doping met die Heilige Gees gaan dat die bybel praat van die Heilige Gees het op hulle "geval" (ou vertaling) of "op hulle gekom" (nuwe vertaling). Letterlik sou hierdie Griekse woord (epipipto) eerder beteken om "met liefde te omhels". Hierdie Griekse woord is afgelei van onder andere die Griekse woord "epi" wat beteken om "iets bo-op iets anders te sit", vandaar die vertaling "geval/op hulle gekom". Dit pas ook goed by die Griekse woord "baptizo" wat as "Doop" (met die Heilige Gees) vertaal is, wat letterlik beteken om "heeltemal te bedek, omvou, toemaak".

                

Met ander woorde by bekering kom woon die Heilige Gees in jou en by die Doping met die Heilige Gees omvou/bedek die Heilige Gees jou en rus jou toe met krag vir jou taak (Hand.1:8). Onthou jy kry nie 'n ander deel van die Heilige Gees wat jy nog nie gehad het nie, want by bekering kom woon die Heilige Gees alreeds in jou.  Die werking van die Heilige Gees wat alreeds in jou is, word net aktief op terreine waar dit nie voorheen aktief was nie. Ek sê ook nie dat Christene wat nie die Doping met die Heilige Gees het sonder geestelike krag en tweedehands is nie: maar dat hulle 'n wonderlike Gawe ontbeer dit is gewis !

 

Verder kan ons aanvaar dat die werklike Doop met die Heilige Gees (net soos om met Water gedoop te word) net 'n rukkie duur,  maar die gevolge daarvan is permanent. Rom.11:29  sê duidelik God gee Sy genadegawes "onberoulik" (ou vertaling) of "Hy trek dit nooit terug nie" (nuwe vertaling).

U vra nog steeds  die vraag maar waar gee God-Drie-Eenig die opdrag dat ons gedoop moet word met die Heilige Gees ?  Is al die voorafgaande voorbeelde wat deur die apostels gestel word nie genoeg nie  ?  Die Woord van God leer ons dan so duidelik om die ware voorbeelde wat aan ons gestel word na te volg (1Pet.2:21, 1Kor.11:1, 2Thes.3:9)

 

Maar afgesien van al die voorbeelde gee die Woord ons wel die opdrag om gedoop te word met die Heilige Gees.  Die opdrag vind ons in Hand.2:38.  Na aanleiding van die vraag in vers 37  "wat moet ons doen, broeders ?"  volg die opdrag van Petrus  in vers38 Bekering, waterdoop en "julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang".  Die Griekse woord wat vertaal is na "ontvang"  is "lambano" wat letterlik beteken "om iets wat beskikbaar is aktief te neem."  Dieselfde "lambano" (ontvang) word ook gebruik in Hand.8:15, 10:47 en 19:2 , waar dit baie duidelik is dat dit gaan om die "ontvang" van die doop met die Heilige Gees.  In laasgenoemde drie skrifgedeeltes asook in Hand.2:38 dui die Griekse grammatika verder ook daarop dat dit nie 'n outomatiese ontvang is nie, maar dat die mense aktief moes vra vir hierdie gawe (in harmonie met die betekenis met die woord "lambano".)

 

Dit is ook nodig om te weet wat dit beteken om "vervul te word met die Heilige Gees",  aangesien mense wat nie die werklikheid of waarheid van die Doping met die Heilige Gees wil aanvaar nie, dit wil vervang met 'n lering oor die Vervulling met die Heilige Gees.  Diesulkes sê gewoonlik:  Die oomblik dat enige mens tot bekering kom, word hy gedoop met die Heilige Gees. Daarna volg die proses van geestelike groei waar die Christene geleidelik meer en meer vervul word met die Heilige Gees.  Die voorbeeld word gewoonlik gebruik dat soos water 'n lee glas vol maak so moet ons toelaat dat die Heilige Gees ons vul.

 

Soos egter vooraf aangetoon weet ons dat die Doop met die Heilige Gees (Hand.2:3-4, Hand.8:16-17, Hand.11:15-16, Hand.19:6)  nie 'n gewone bekeringondervinding is nie.  Dat Doping met die Heilige Gees wel saam met bekering kan plaasvind is duidelik (Hand.11:14-16), maar dat dit nie noodwendig saam met bekering plaasvind nie, is ook duidelik (Hand.8:12-17).

 

Wat is vervulling met die Heilige Gees dan ?  Die bybel verwys hierna onder andere in Hand.2:4, Hand.4:8, Hand.4:31, Hand.9:17, Hand.13:9, Hand.13:52, Ef.5:18. Anders as die Doping met die Heilige Gees wat eenmalig per Christen is, is Vervulling met die Heilige Gees nie 'n eenmalige gebeurtenis nie.  Lees Hand.9:17 en Hand.13:9 saam (ou vertaling). En lees Hand.2:4 en Hand.13:52 saam (ou vertaling). Die Griekse woorde wat vertaal is na "vervul" (pletho / pleroo) het beide 'n letterlike en 'n figuurlike betekenis.  Letterlik beteken dit om iets "vol te maak" (soos die glas met water voorbeeld)  en figuurlik beteken dit om "iemand te vul met emosie , oortuiging, beinvloeding", dit het ook die betekenis van "diffusie" - 'n noue  interaksie tussen jou gees en die Heilige Gees. In kort dus :  Om vervul te word met die Heilige Gees beteken om in volmaakte harmonie met die Heilige Gees te wees. Dit (vervulling met die Heilige Gees) kan dus gebeur by jou bekering,  by Doping met die Heilige Gees, asook op talle ander geleenthede.  En 'n persoon wat nie net 'n Sondag

Christen is nie kan 7 dae in 'n week vervul wees met die Heilige Gees.

 

'n Finale bewys van hoe verkeerd dit is om die Doop met die Heilige Gees te probeer vervang met die lering van die vervulling met die Heilige Gees, asof laasgenoemde (vervulling met die Heilige Gees) nou eers beskikbaar is vir Christene na die Uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag word nog duideliker as besef word dat gelowiges al voor Pinksterdag vervul kon word met die Heilige Gees (Ex.31:3 ou vertaling, Ex.35:31 ou vertaling, Luk.1:15, Luk.1:41, Luk.1:67).

 

'n Laaste vraag wat gevra kan word is: Wat is die vereistes vir die Doping met die Heilige Gees?  Die antwoord is eenvoudig, eerstens  moet jy 'n gelowige wees (Luk.11:13), tweedens moet jy 'n werklike drang /begeerte ("dors") het om gedoop te word met die Heilige Gees (Joh.7:37-39) en derdens moet jy dit aanvaar ("drink") met dieselfde rustigheid en gemak waarmee jy jou verlossing aanvaar (Joh.7:37-39).

 

Ten slotte:  Doping met die Heilige Gees verander jou nie in een dag na 'n Paulus nie, 'n proses van geestelike groei is steeds nodig.  Maar jy sal egter na 'n tyd wel kan terugkyk en weet----: hierdie Gawe het my baie nader aan Jesus gebring !

 

Vra iemand wat alreeds hierdie gawe van die Doop met die Heilige Gees het om tot Jesus Christus, die Doper, te bid sodat jy hierdie Doop met die Heilige Gees kan ontvang !

 

Send mail to mvdm@mail.com with questions or comments about this web site.
Copyright © 2003
Last modified: 04/23/04