As gevolg van sonde het daar 'n skeidsmuur gekom tussen God Drie Eenig en die mens.  En indien die mens voortgaan op hierdie pad sal hy uiteindelik beland op 'n plek wat oorspronklik nie vir hom berei is nie 'n "...ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele" (Matt.25:41)

 

Hoe tragies, want "....Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van 'n mens nie opgekom het nie , dit het God gereed gemaak vir die wat Hom liefhet" (1Kor.2:9 nuwe vert.)

 

Van Sy kant doen God Drie Eenig alles om hierdie sondemuur af te breek.  Jesus Christus het gekom en in ons plek die straf van sonde gedra (Joh.3:16, 1 Kor.15:3). Op een Mens is die straf vir die sondes van die hele wereld geplaas (1 Joh.2:2).  Hoe sal ons ooit kan begryp wat Jesus vir ons deurgemaak het.  Voor Sy kruisiging al het Hy geweldige pyn en vernedering verduur -- 'n doringkroon (Matt.27:29), geseling (Matt.27:26), spot en spuug (Matt.27:30 - 31). Sy baard is uitgepluk (Jes.50:6).  Die pyn aan die kruis was veel erger. Navorsers vertel 'n verhaal van uiterste pyn en lyding wanneer hulle die dood beskryf van 'n gekruisigde. Maar Jesus se lyding was nog veel veel erger.  Wie sal ooit kan besef wat gebeur het gedurende die drie ure van duisternis wat oor die aarde toegesak het (Matt.27:45).  In hierdie ure het Jesus die straf vir die sondes van die wereld gedra.  In hierdie ure het Jesus die siektes van die mensdom gedra (Jes.53:4 - 5 *,  Matt.8:16 - 17). Wat het hierdie sondes en siektes aan hom gedoen ... "...So misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos die van 'n mensekind nie. "  (Jes.52:14 *).  Maar die ergste was seker dat God Hom verlaat het (Matt.27:46).

 

Gedurende Sy kruisiging het Jesus die volle straf namens ons gedra, (nie gedurende die 3 dae wat Hy dood was nie) daarom kon Hy net voor hy gesterf het uitroep "Dit is Volbring !" (Joh.19:30)

 

Na hierdie liefdesdaad aan 'n verlore mensdom is dit nog nie die einde van wat God doen nie.  Nee! Deur sy Heilige Gees en deur Sy Woord werk Hy in elke mens.  Die Heilige Gees  is werksaam om elke sondaar te oortuig van sonde, geregtigheid (dat die antwoord by Jesus is)  en oordeel (Joh.16:7 - 11).

 

Wanneer die Heilige Gees die mens oortuig het van sy verlore toestand is die logiese vraag seker dieselfde as wat die tronkbewaarder in Hand.16:30 gevra het "...wat moet ek doen om gered te word ?"  En die antwoord is in vers 31 "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin "  Ja, Jesus is die enigste Weg na redding (Joh.14:6, Hand.4:12). Maar wat van Jesus moet  ons glo ?  Die antwoord word gegee in 1Kor.15:1 - 5  "...die evangelie.... waardeur julle ook gered word... want in die eerste plek.... dat Christus vir ons sondes gesterf het... dat Hy begrawe is... dat Hy op die derde dag opgewek is... dat Hy ... verskyn het...aan die twaalf." Lees dit!

 

 

(* Ek weet daar is 'n lering wat sê dat die gedeelte in Jes.52:13 - 53:12 na Israel in ballingskap verwys,  maar soos met enige dwaalleer wys die Woord van God self op die verkeerdheid daarvan. In Matt.8:16-17 vind ons 'n direkte vervulling van hierdie gedeelte, spesifiek dan van Jes.53:4. Diegene met die "Israel in ballingskap" interpretasie verwerp dus Mattheus se interpretasie.)


 

Vir ons volkome saligheid word daar dus 'n lewende geloof vereis  in Jesus Christus se sterwe vir sondes, Sy begrafnis en Sy opstanding as oorwinnaar vir ons.

Verstaan u waarom ons geloof nie net kan vassteek by die feit dat Jesus vir ons sondes gesterf het nie,  maar hoekom dit moet verder gaan tot by Sy opstanding ?  Die antwoord word gegee in 1Kor.15:12-23 met die kern in vers 17 "en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes."

 

Indien ons nou net sê, ja ek glo hierdie evangelie (euaggelion = goeie nuus) is dit voldoende vir ons redding ?  Pasop, ons word gewaarsku teen 'n geloof sonder werke (Jak.2:14,19,22,26). Watter werk word dan van ons verwag ?  Kom ons kyk weer na die verskillende aspekte van die evangelie wat ons moet glo.

EERSTENS :  Jesus het vir ons sondes gesterf (1 Kor.15:3).  In Rom.5:6 - 10 (lees dit) vind ons 'n vollediger beskrywing van die implikasie dat Jesus vir ons sondes gesterf het.  Hier sien ons in vers 9 (ou vert.) "Dat ons geregverdig (regverdig verklaar is) is in sy bloed." (Ongelukkig het die nuwe vertaling hier 'n vertalingsfout begaan) Nou gaan Gods Woord verder vir ons oop... In perfekte harmonie toon gedeeltes soos Mark.14:24, Hand.20:28, Ef.1:7, Ef.2:13, Kol.1:14 (ou vert.) Kol.1:20, Heb.9:14, Heb.9:22, Heb.10:29, 1 Pet.1:18 -19, 1 Joh.1:7, Open.1:5 dat dit deur Jesus se Bloed is wat ons vergifnis van sonde ontvang. Hoe ontvang ek vergifnis deur Sy Bloed ?  Deur my sondes te bely (1Joh.1:9). Die feit dat die "bely" van ons sondes geskryf is in die "present subjuntive active" beteken dat ons self ons sondes moet bely. Verder dui dit ook op 'n aksie wat herhaal word.  Dit beteken nie dat jy een sonde herhaaldelik moet bely, net omdat jy uit ongeloof nie vergifnis wil aanvaar nie.  Dit beteken bloot dat sondevergifnis nie net eenmalig bv. met jou bekering plaasvind nie .  Nee! Soos jy op jou lewenspad sondig, so reinig Jesus se Bloed jou wanneer jy jou sondes bely.  Baiemaal selfs voordat jy nog jou skuld bely (Rom.8:34).

 

Die gesindheid waarmee ons ons sondes bely le opgesluit in 'n ware bekering.  Bekering is die praktiese keuse wat ons uitoefen vir verlossing deur Jesus Christus.  Want let op  in die volgende tekste hoe sondevergifnis en redding plaasvind by bekering.

Matt.12:41, Mark.4:12, Luk.15:10, Hand.3:19, Hand.5:31, 2Kor.7:10, Heb.6:1,  Matt.18:3.  In die voorafgaande aanhalings is daar 4 verskillende Griekse woorde vir bekering / verander /berou naamlik "metanoeo /metanoia" wat beteken "'n verandering van gesindheid ten goede"  en "strepho" wat beteken "om , om te draai" en "epistrepho" wat beteken "om, om te draai (by implikasie na God)."

Die grammatika by laasgenoemde 2 dui op 'n eenmalige aksie, terwyl die grammatika by eersgenoemde 2 weer op 'n herhaling dui.

 

Bekering kan dus as volg opgesom word:  'n Verandering in gesindheid teenoor sonde wat lei tot 'n wegdraai daarvan. Hierdie bekering word dan ook 'n lewenswyse, met ander woorde jy is nie net  eenmaal bekeerd en daarna kan jy in sonde voortgaan nie, Nee! Daar moet 'n gedurige gesindheid van

wegdraai van sonde  in jou wees.

 

Wat is sonde ? Die Bybel verskaf 'n paar lyste, onder andere in Gal.5:19-21 ....en party sê, maar dit is dan die "lekker" dinge , ander weer maak soos die skrifgeleerdes van ouds die lyste nog baie langer - hoe onnodig.! ( Kol.2:20 - 23, 1Kor.6:12 lg. in ou vert.)

Lees weer 'n slag Matt.22:35 - 40 en Joh.13:34 .  Sonde is liefdeloosheid teenoor God, teenoor jou naaste en teenoor jouself.

 

Opsommend dus wat gebeur in die praktyk ?

Jesus Christus het alreeds alles vir jou gedoen - jyself kan niks meer bydra om jou redding te verdien nie.  Dit is suiwer genade , 'n gawe van God. (Ef.2:8 - 9)

 

Nou begin God deur die Heilige Gees met 'n oortuigingsproses om jou te oorreed om hierdie gawe - redding deur Jesus Christus - aan te neem. (Joh.16:7 - 11, Fil.2:13)

 

Maar die keuse bly joune.  Wanneer jy dan uiteindelik oortuig van jou verlore toestand jou keuse uitoefen is jou bekering gerig op Jesus Christus (Joh.1:12, Open.3:20). Die enigste weg waardeur bekering sinvol is (Joh.14:6, Hand.4:12).

 

Vervolgens haal ek 'n bekeringsgebed aan wat die bekende prediker Billy Graham in een van sy boeke geskryf het.  Bid hierdie gebed hardop en Jesus sal jou verlos van die dood tot die Ewige Lewe.

 

"O Here, ek is 'n sondaar.  Ek het berou oor my sonde. Ek is gewillig om van my sondes weg te draai.  Ek ontvang Jesus Christus as my Here en Verlosser.  Ek bely dat Hy my Meester is. Ek wil Hom van hierdie oomblik af dien   in die gemeenskap van Sy kerk.  In die Naam van Christus. Amen. "

 

Na jou bekering be-erf jy die Ewige Lewe (Joh.3:16, Hand.3:19, 2Kor.7:10) in die Koninkryk van die Hemele  (Matt.18:3). Terselfdertyd kom woon die Heilige Gees in jou (Joh.14:16 - 17, 1Kor.3:11,16)  Hierdie bekering van jou waar jy vir Jesus as Verlosser aanneem (Joh.1:12) is 'n eenmalige optrede (Heb.6:1)

 

Die sogenaamde "daaglikse bekering" wat gepredik word en wat baie mense verwar, beteken nie ons moet  vir Jesus daagliks weer aanneem as Verlosser nie.  Die Heilige Gees wat  jou waarborg (2Kor.1:22, Ef.1:13 - 14 ) vir die Ewige Lewe is , gaan nie in en uit jou nie -- Hy woon in jou (1 Kor.3:16).  Die "daaglikse bekering" is soos reeds gesien 'n lewenswyse waar jy voordurend God se wil soek en wanneer die Heilige Gees jou oortuig dat jy gesondig het, dan vra en ontvang jy vergifnis deur Jesus se Bloed (1 Joh.1:9 ).  Dit is 'n voordurende proses.

 

Dit sover dit die eerste deel van die evangelie betref, naamlik dat ons deel kry aan  die Bloed van Jesus se sterwe  deur ons tot Hom te bekeer.  Vervolgens verwys ek net baie kortliks na die res van die evangelie, aangesien daar in die volgende hoofstukke meer volledig daarna verwys word,  in

terme van leerstelling en die gevolge van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan die res van die evangelie.

 

TWEEDENS:  Jesus is begrawe en ook opgewek (1 Kor.15:4). Die wyse waarop ons hieraan deel kry, is deur die waterdoop (Rom.6:4, Kol.2:12).

 

DERDENS: Jesus  het verskyn. (1 Kor.15:5 - 8)

Hierdie verskyning van Jesus na Sy opstanding was uiters belangrik, want hoe sou ons geloof kon hê as ons nie geweet het dat Hy opgestaan het nie.  Sy verskyning was  juis om te verseker dat daar getuienis sou wees  (Hand.13:31 - 33). Verder was die belangrikste opdrag wat Jesus met  Sy verskyning gegee het, dat daar voortgegaan moes word met die verkondiging van die evangelie (Matt.28:19, Mark.16:15, Luk.24:46-48). Maar daar was 'n belangrike voorwaarde voordat hulle toegelaat was om te begin met hierdie groot opdrag -- hulle moes wag vir die Doop met die Heilige Gees ( Luk.24:49, Hand.1:4 - 5).  Ja, die apostels het die krag van die Doop met die Heilige Gees nodig gehad (Hand.1:8) voordat hulle kan uitgaan en vertel -- "Jesus leef, want Hy het aan ons verskyn!"

 

Die laaste faset van die evangelie wat Jesus vir ons wil, is om die Doop met die Heilige Gees te ontvang. By die Doop met die Heilige Gees verkry ons dus deel aan 'n belangrike faset van Jesus se werk na Sy verheerliking (Joh.7:39, Hand.2:33).

 

Dus toe Petrus na die heel eerste toespraak op Pinksterdag die evangelie van Jesus Christus verduidelik het  en die mense vir hom gevra het "wat moet ons doen " , was sy antwoord prakties en volledig -- Bekering , Waterdoop en ontvang die gawe van die Heilige Gees. (Hand.2:38)

 

Die voorregte vir Christene (vir die hede en die hiernamaals) het groter geword as gevolg van Jesus Christus se werk, die evangelie gaan verder as net bekering, wat in die ou bedeling al was wat verkondig was.  "Die wet en die profete was tot op Johannes ; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en  elkeen dring met geweld (groot gretigheid) daarin." Luk.16:16.  

 

Send mail to mvdm@mail.com with questions or comments about this web site.
Copyright © 2003
Last modified: 04/23/04