Home Up

 ...vanaf die webeienaar
 

 

 

 

Hoe sal u weet of dit wat in hierdie bundel geskryf is die waarheid is en of dit ook maar weer net 'n afwyking van die Waarheid is !

 Daar is maar net een antwoord .  Voordat u verder lees moet u tot God-Drie-Eenig bid en vra dat Hy die waarheid of onwaarheid van wat hier geskryf is aan u sal duidelik maak deur Sy Heilige Gees. Dan moet u die Woord van God neem en dit wat in hierdie bundel geskryf is, kontroleer uit u Bybel.

 Met enkele uitsonderings, onder andere 'n stuk geskiedenis , het ek my bes probeer om slegs die Woord van God aan die woord te stel.  U sal dus vind dat vir bykans alle argumente in hierdie bundel is daar skrifbewyse voor gegee.  Ek wil dus ten sterkste aanbeveel dat wanneer u hierdie bundel lees,  u alle skrifverwysings in u Bybel sal opsoek.  Want dit gaan in hierdie bundel oor wat sê Gods Woord oor die Evangelie wat Jesus Christus vir ons gebring het en  nie oor wat sê 'n individu of groep mense nie.

 In die praktyk sal dit seker  makliker wees om net eers 'n hoofstuk op 'n slag deur te lees, net eers om die geheelprentjie te kry en dan dieselfde hoofstuk 'n tweede keer deur te gaan, maar die keer om alle skrifbewyse op te soek en sodoende vir u self te kan oordeel wat sê die Woord van God .  En stof maar weer u ou vertaling (1933/53) af, want aangesien dit 'n letterlike vertaling is , is dit in baie gevalle nader aan die oorspronklike tale as wat die nuwe vertaling (1983) is.

 In die hoofstuk wat handel oor "Die Koninkryk van God" kom die konsekwensies van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan die dinge wat in die vorige hoofstukke geskryf is,  bymekaar. Hierdie hoofstuk is deur 'n bekende persoon geskryf as 'n preek .  'n Preek wat al gelewer is in verskeie oorsese lande, onder andere Japan, die V.S.A en Europa , asook op enkele plekke in Suid- Afrika. Verder is dit ook al vertaal in 8 tale, onder andere Russies. Oral waar hierdie preek gelewer is , het die Heilige Gees mense oortuig van die waarheid daarvan. Letterlik duisende mense aanvaar die waarheid daarvan. Hy vertel my by 'n plaaslike (in Suid-Afrika) geleentheid was daar een aand tussen die baie wat die waarheid aanvaar het van Bekering, Waterdoop (van gelowiges) en Doop met die Heilige Gees selfs drie N.G.Kerk predikante wat gedoop is met die Heilige Gees en met water.

 Maar hierdie is nie 'n nuwe evangelie nie.  Vir baie jare al is daar baie duisendes wat die waarheid soos vervat in hierdie bundel ken en glo.  Inderwaarheid is dit wat in hierdie bundel geskryf staan eintlik die ou ou tyding soos gebring deur Jesus Christus en Sy apostels.  Die enigste bron om hierdie laaste stelling te kontroleer is die Woord van God soos dit staan in die Bybel.  U kan dit self kontroleer ! Doen dit ! En mag u oë oopgaan vir die volle Waarheid.

 Miskien is dit net eers nodig om enkele sake baie duidelik uit te klaar. Voordat u die res van die bundel lees moet u eers vir u self uitmaak watter gesag die Bybel dra. 2 Tim.3:16 sê "die  hele Skrif is deur God ingegee..."  Besef u werklik hoe heftig is die aanval om God se Woord te diskrediteer.  In die Kerkbode van 22 April 1994 (bl.2) is daar 'n beriggie wat sê dat Amerikaanse geleerdes het 'n boek geskryf waarin hulle bevind dat van die Onse Vader gebed wat Jesus vir die mense geleer  het slegs die woorde "Onse Vader" deur Jesus self geleer is en die res deur ander persone. 'n Tydjie gelede was daar 'n program op televisie waar 'n geleerde ontdek het dat die Dooie See Rolle eintlik iets heel anders leer as  ons Bybel. Jesus het nie opgestaan nie.  Hy was nie die Seun van God nie. Hierdie is maar twee voorbeelde van baie baie meer.

 U verwerp hierdie dinge met minagting ?  Ja, dit is reg, dit is wat dit verdien.  Maar is ons self nie dalk besig met net 'n meer subtiele vorm van Skrif-afwatering nie ?  Ter wille van die wetenskap word bv. die evolusie teorie aanvaar en om verby die Bybel te kom, word die eerste paar hoofstukke van Genesis beskou as mooi poësie en buitendien die "Bybel is mos nie 'n wetenskaplike handboek nie".  Ek het al skrifgedeeltes aan N.G. Kerk predikante gewys wat baie duidelik die waarheid toon van die waterdoop  en die doop met die Heilige Gees, die antwoord: "Ons kan nie hierdie versies glo nie , want dan sou dit  bots met die res van die Bybel."  So by implikasie trek ons maar eerder 'n dik swart streep deur sommige versies.  Maar eintlik was daardie predikante in 'n sekere opsig reg.  Die Bybel raak wel 'n mynveld van teenstrydighede, maar dan net as jy leerstellings huldig wat in elk geval nie skriftuurlik is nie.

 As ons elke versie glo, sal ons vind dat elke versie volmaak inpas by die konteks en dat die Bybel skielik nie meer teenstrydighede het nie.  En is dit nie wat elkeen van ons tog diep in sy hart hoop nie,  want dit is tog die Woord van God. Ja baie mense sê  die Bybel is die Woord van God, maar in die praktyk behandel hulle die Bybel asof dit slegs die Woord van God bevat, met ander woorde die deeltjies wat pla word geignoreer met die verskoning van al die baie menslike  foute wat ingesluip het --- Nee! Die hele Woord is die Woord van God. Elke boek, elke hoofstuk elke vers elke woord ! Voordat u nie bereid is om dit te aanvaar nie, gaan u in elk geval nie Gods Woord glo wanneer u verder lees aan hierdie bundel nie. Ekself glo dat die Woord absoluut in konteks gelees moet word, maar "konteks" het deesdae die verskoning geword om net dit van Gods Woord te glo wat vir ons gerieflik is. 'n Versie bots nooit met die konteks nie,  ook bots die konteks nooit met 'n versie nie. Indien dit wel bots is dit maar net ons wat nog nie die waarheid ken nie. Maar wanneer ons volhardend ons "eie konteks" glo ten spyte van die "detail", maak ons "God , wat nie kan lieg nie" (Tit.1:2 ou vert.) tot leuenaar.  Ja ek het reeds vir u gese dat elke woord in die Bybel Gods Woord is en vir Hom belangrik is (Open.22:19 nuwe vert.) Maar het u geweet dat elke letter en selfs deel van 'n letter vir God belangrik is in Sy Woord. (Matt.5:18, Luk.16:17)

 Ek het onlangs 'n boekie oor Openbaring van 'n baie bekende Gereformeerde teoloog gelees en iewers in die boekie sê hy: "Kom ons ontvang die magtige boodskap ..... sonder om te veel na die detail te kyk.  Dis trouens oral in Openbaring van belang..."

Dink u God is tevrede met so 'n stelling ?

 Baie mense dink ook ag wat , kyk hoeveel sektes en dwaalleringe is daar en almal roem daarop dat juis hulle die Bybel reg interpreteer.  Ja , mens kan bykans enigiets uit die Bybel bewys om jou te pas sê diesulkes ! As dit wel so is dat God se Woord soveel verskillende teenstrydighede bevat, dan is God mos 'n leuenaar, want onthou die " hele Skrif is deur God ingegee..."

Nee, God se Woord is in perfekte harmonie met homself.  Dit is die verwaandheid van die mens wat homself verhef bo die gesag van die Woord wat lei tot soveel verskillende denkrigtings. Onthou die volgende.... enige dwaalleer kan uit die Woord van God self ontmasker word.  Daar is dus slegs EEN absolute waarheid in die Skrif.  Elke mens sal eendag vir hom - of haarself moet rekenskap gee.  Jy sal nie kan sê maar my kerk het so en so geleer nie.  Jy sal nie kan sê maar elke ou het sy eie idee toe los ek maar eerder alles nie.  Die Here van die Heelal sal vir jou sê: Jy het tog 'n kopie van My Woord in jou huis gehad, hoekom het jy dit nie self gelees nie ?

 Liewe vriende , die res van die bundel is so geskryf dat jy meeste van die argumente in jou Bybel kan kontroleer.  Doen dit! En doen dit met 'n onderdanigheid aan God se Woord. Onderdanigheid aan elke woord en letter en konteks van Sy Woord.

 Mag Jesus Christus  ons Verlosser vir u elkeen 'n steeds groter en heerliker werklikheid word.  Mag u Amen sê op Ef.1:3 "Geseënd is die God en Vader van Onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus."

pet meds
Free Web Counter
pet meds

 

Home ] Up ]

Send mail to mvdm@mail.com with questions or comments about this web site.
Copyright © 2003
Last modified: 04/23/04